God wil jou Voorspoedig Maak

 

Een van die gevolge van Hiskia se toewyding en gehoorsaamheid was dat die Here hom voorspoedig gemaak het:

Hiskia was ryk en het groot aansien geniet. Hy het vir hom skatkamers laat bou vir silwer, goud, edelstene, kosbare kruie, skilde en allerlei waardevolle goed. Hy het opslagplekke laat bou vir die koring, wyn en olie wat aan hom gelewer is, en krale en stalle vir sy beeste en kleinveekuddes. Hy het vir hom stede laat bou en het groot troppe kleinvee en grootvee gehad. God het hom 'n baie groot persoonlike besit laat opbou.” (2 Kronieke 32:27-29)

Hierdie is ‘n patroon wat ons reg deur die Ou Testament kan navolg. Elke keer wanneer God se kinders gehoorsaam en getrou was, het Hy hulle voorspoedig gemaak. Hy het hulle geseën met besittings, reën in oorvloed, militêre oorwinnings en rykdom. Wanneer hulle egter ongehoorsaam en ontrou was, het hulle droogte en hongersnood beleef. Die goeie konings van Israel en Juda was voorspoedig terwyl die slegte konings deur die nasies in gevangenskap en armoede gedompel is.

Daar is baie Christene vandag wat reken dat hulle aanspraak kan maak op dieselfde beginsels van voorspoed en seën en hulle is reg. God wil ons almal seën en voorspoedig maak. Hy wil hê dat ons die heel beste van Hom moet hê, en dit in oorvloed. Daardie gelowiges wat getrou is aan die Here en gehoorsaam is aan Sy Woord, word geseën met oorvloed van rykdom, voorspoed, oorwinning en seën. Terselfdertyd word diegene wat ongehoorsaam is aan die Here, onderwerp aan die lyding van armoede, neerlaag en die Here se tugtiging.

Maar, daar is ‘n hemelsbreë verskil tussen Abraham se letterlike en fisiese nakomelinge (die Ou-Testamentiese Israel) en die geestelike afstammelinge van Abraham (die Kerk). Israel was die liggaamlike afstammelinge terwyl ons die geestelike afstammelinge is (Rom 2:28-29; 4:16-17). Die een is tasbaar en die ander nie. Die een kan gesien word en die ander nie. Aan die liggaamlike of fisiese afstammelinge van Abraham het die Here nie net fisiese beloftes van seën gegee nie, maar ook van oordeel en vloek. Aan ons, die geestelike kinders, is die beloftes nie meer fisies nie, maar geestelik. Derhalwe is daar fisiese beloftes en seëninge vir die fisiese afstammelinge en geestelike beloftes en seëninge vir die geestelike afstammelinge.

Dit is gevolglik korrek om te praat van seëninge en voorspoed vir die Christene, maar hierdie is geestelike vrugbaarheid, seëninge, oorwinnings en oeste. Ja, die Here wil hê dat ons ryk moet wees – nie ryk in geld en besittings nie, maar ryk in geestelike skatte. Hy wil hê dat ons voorspoedig moet wees en ons grense moet uitbrei – nie die grense van lande nie, maar van kennis van Sy Woord. Dit is God se wil dat ons baie kinders moet hê – geestelike kinders, gebore vanuit die Gees. (Ek was nog altyd verbaas dat diegene wat preek oor fisiese rykdom nooit melding maak van die feit dat die Ou-Testamentiese beloftes ‘n belofte van baie kinders ingesluit het nie!) Ja, Hy wil hê dat ons in oorwinning moet lewe, nie oorwinning oor heidense nasies nie, maar oorwinning in geestelike veldslae oor die vyand van ons siele en oorwinning ook in ons omstandighede. Die Here wil verseker hê dat ons veelvuldige oes sal afhaal – nie van koring en graan nie, maar van siele. Daar is ‘n oorvloedige erfenis vir ons – nie in hierdie wêreld nie, maar in die wêreld wat gaan kom.

Ons voel somtyds skuldig om oor hierdie wonderlike seëninge te praat aangesien die geld- en voorspoed predikers die Woord so verdraai. In die proses het ons egter ons rûe gedraai op ‘n wonderlike deel van die Bybel: dat die Here ons inderdaad wil seën en dat Sy bedoeling teenoor ons altyd net goed is. “Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie?” (Rom 8:32). Ons moet derhalwe nie oorreageer teen die kettery van die hedendaagse geslag deur sommige van die belangrike leringe van die Nuwe Testament te ignoreer nie. Sodoende beroof ons onsself van ons erfenis. Om die waarheid te sê, ons het nie net baie van die Skrif wat van die Here se seëninge praat, geïgnoreer nie, ons het begin om dit met agterdog te bejeën.

Die “Bergrede” (Matteus 5 tot 7) is een van Jesus se belangrikste boodskappe. In Sy openingsgedagtes gebruik Hy die woord “geseënd” nege keer. (Dieselfde woord verskyn ten minste 55 keer in die Nuwe Testament.) “Geseënd” beteken gelukkig, deur God geseën en is ‘n gemoedstoestand wat nagestreef behoort te word. In hierdie verse leer Jesus onteenseglik dat Hy wil hê dat ons geseënd moet wees, maar nie op die wêreld se manier nie. (Lees self Matteus 6:19-21.)

Dit is nie God se wil dat Christene geestelike bedelaars moet wees wat nouliks genoeg geestelike voedsel het om hulleself te voed nie. Nee, Hy wil hê dat ons oorvloed moet hê en in so ‘n mate dat ons in staat sal wees om dit met ander te deel. Ons moet ook in ‘n posisie wees waar Sy seëninge in ons lewe so oorvloedig is, dat ons nodig moet hê om ons store af te breek en groter te bou. Ongelukkig spandeer ons soveel tyd daaraan om aardse skatte te vergader terwyl ons nie eens moeite doen om die ware rykdom te vind nie.

Indien ons daarop uit is om God se seëninge te soek sonder dat ons Hom soek, dan sal ons ook teleurgestel word. Byvoorbeeld, die slegte konings van Israel het geld, mag en invloed nagejaag en in die proses die Here verloën. Nodeloos om te sê dat geeneen van hulle die paal gehaal het nie. Die paar goeies wat eers die Here en Sy wil gesoek het, het die Here se seëninge ontvang. Hiskia het reeds op die eerste dag van sy koningskap ‘n punt daarvan gemaak om die Here en Sy eer te soek. In die proses het die Here hom geseën en alles verder as ‘n bonus gegee.

Ons ontmoet dikwels Christene wat hulle verdiep in ‘n studie van Christelike dinge soos boeke, DVD’s, predikers en kerke. Hulle jaag geestelike seëninge na en dit blyk prysenswaardig te wees. Nogtans is hulle geestelik bankrot. Hoekom? Omdat hulle die geskenke wil hê maar nie die Gewer van die geskenke nie. Hulle soek die seëninge, maar nie die Een wat seën nie. Verder wil hulle ook hierdie seëninge op hulle eie voorwaardes en tyd ontvang en nie ooreenkomstig die Here s’n nie. Daarom, moenie seëninge najaag nie – soek die Here. Moenie verlang om seëninge te ontvang nie, maar honger om meer van Hom te leer en Hom beter te ken.

Laastens is dit my wens en gebed vir jou dat hierdie nuwe jaar een van oorvloed sal wees. Ek bid dat “al hierdie seëninge oor jou [sal] kom en jou lewe [sal] verryk” (Deut 28:2) en dat “[d]ie Here sy goeie skatkamer, die hemel, vir jou [sal] oopmaak om die reën van jou land op die regte tyd te gee en om al die werk van jou hand te seën; en [dat] jy aan baie nasies [sal] uitleen, maar self nie hoef te leen nie. En [dat] die Here jou die kop en nie die stert [sal] maak nie, en jy net boontoe en nie ondertoe [sal] gaan nie” (Deut 28:12-13 OAV). Ek bid dat ons, as die Here se kinders, Hom waarlik sal ken en dat ons Sy oorvloed en rykdom in ons lewens sal ervaar.

Die Gees wat ons ontvang het, is nie die gees van die wêreld nie, maar die Gees wat van God kom. So weet ons wat God ons uit genade geskenk het” (1 Kor 2:12).